binneste
skool
pret

Tennis

deur Charles Hills

 

 

Geskiedenis van tennis

Mense speel darem maar graag met ’n bal, nè maats! Honderde jare gelede het hulle al balle gemaak van leer, lap of vilt wat hulle met semels opgestop het. Hulle het dan daardie balle vir mekaar geskop of geslaan.

 

Tennis het begin met ’n speletjie waar die spelers die bal sommer met die hand geslaan het. Later het hulle handskoene gebruik en daarna houtspane (amper soos dié wat ons vir tafeltennis gebruik). Hulle het die bal vir mekaar teen ’n muur geslaan. Die tennis wat ’n mens met ’n raket op ’n baan speel, het eers in die 19de eeu in Engeland ontstaan. Dit was omtrent die tyd toe ons Voortrekkers uit die Kaap uit getrek het!

 

Die eerste tennisbane is in groot sale gespeel. Die balle wat hulle gebruik het, was van soliede rubber. Later het iemand uitgevind hoe om balle van ’n dun laag rubber te maak wat met lug gevul is, en hulle kon tennis in die buitelug op grasbane begin speel. Bane is later ook van sement en klei gebou.

 

Gewilde sport

Deur die jare het tennis baie gewild geword, veral toe hulle begin het om die belangrike wedstryde op TV te vertoon. Daar word elke jaar groot toernooie gehou waarna miljoene mense op TV kyk. Die vier grootste toernooie is by Wimbledon in Engeland en die Amerikaanse, Australiese en Franse Ope. Wimbledon bly maar die gewildste toernooi. Dit is elke tennisspeler se droom om daar te wen.

 

Suid-Afrikaners

Nog net een Suid-Afrikaner, Kevin Curren, het al in die eindstryd op Wimbledon gespeel. Hy het in 1985 teen Boris Becker verloor. ’n Paar van ons spelers was darem al kampioene in die dubbelspel.

 

Kleredrag

Kan julle glo dat die spelers vir baie jare net wit klere kon dra? Die mans moes met langbroeke en die vrouens met lang rokke speel. Dit het die spelers verhinder om vinnig op die baan te beweeg en die broeke en rokke het al korter begin word!

 

Toerusting

’n Tennisspeler se belangrikste besitting is sy raket. In die ou dae is raketrame van hout gemaak, met snare van riempies. Hulle was baie swaar. Deesdae is die rame en snare van kunsvesel, wat baie lig, maar baie sterk is. Die spelers kan die bal baie vinnig en baie hard slaan.

 

Lees verder...