binneste
skool
pret

Deur Susan Kroon

 

Het jy al gewonder hoe jy ekstra geld kan verdien, wil jy ook graag ’n entrepreneur wees, maar weet nie waar om idees in die hande te kry nie? Idees is oral, jy moet net die regte ‘bril’ opsit om dit raak te sien. Daar is baie idees, maar ’n idee is net ’n geleentheid wanneer dit ’n behoefte in die mark bevredig. Kom ons kyk na Gerda se storie.

 

Gerda is in Gr 3 en het altyd daarvan gehou om op haar pa se rekenaar te speel. Eers het sy net rekenaarspeletjies gespeel, later het sy haar verjaardaguitnodigings en naamkaartjies vir haar kersgeskenke daarop gemaak. Eendag bring Gerda se beste maat Lindi een van haar pa se besigheidskaartjies (dit is ’n kaartjie waarop al Lindi se pa se besonderhede staan) skool toe om vir haar maats te wys hoe mooi dit is. Dadelik het Gerda ’n plan gekry, sy sou vir Lindi wys dat sy dit ook op die rekenaar kan maak. Toe sy die volgende dag vir Lindi haar eie besigheidskaartjie skool toe neem was al die kinders wat dit sien baie opgewonde. Almal wou hê Gerda moet ook vir hulle hul eie kaartjies maak. So het Gerda se idee nie net ’n idee gebly nie, maar ’n geleentheid geword.

 

As Gerda dit kan regkry, kan jy ook. Kom ons kyk wat het sy gedoen en wat jy in gedagte moet hou om idees raak te sien wat jy in ’n geleentheid kan verander om ekstra geld te verdien.

 

1. Gerda het daarvan gehou om op die rekenaar allerlei goed te maak en sy kon dit al goed regkry.

2. Sy het geluister na wat die kinders oor die kaartjie te sê gehad het. Die kinders, haar mark, wou ook sulke kaartjies gehad het, dus het sy hulle behoefte bevredig.

 

Jy ook ook nog idees kry deur te:

§ kyk waarvan jy hou en wat jy goed kan doen. Jy is dalk iemand wat daarvan hou om grappies te maak. Hoekom stel jy nie jou dienste as ’n hanswors op kleiner kinders se partytjies teen ’n prys beskikbaar nie?

§ luister na wat jou maats of ander mense graag sal wil hê maar wat hulle nie self wil doen nie (dienste). Dit kan dinge wees soos tuin natmaak, karwas of grassny en troeteldiere versorg. As jy nog te jonk is om dit vir ander mense te doen, kan jy sommer net begin om vir pappa in die tuin te help.

§ let na wat mense graag wil hê (produkte) soos droë vrugte of neute wat jy iewers in groot maat teen ’n lae prys kan koop en dan in klein pakkies verpak en versprei.

 

Het jy dalk ’n spesiale stokperdjie soos juwele of kaartjies maak? Hou spesiale dae soos moeders-, vaders- of Valentynsdag in gedagte en kyk of jy nie jou stokperdjie winsgewend kan maak nie. Blaai deur tydskrifte, want dit is vol idees. ’n Idee is byvoorbeeld om van gewone bruinpapier besondere geskenkpapier te maak deur mooi prente daarop te verf.

 

Kyk ’n bietjie hoeveel idees jy kan raaksien noudat jy weet hoe om jou ‘idee bril’ op te sit. So is jy dalk kort voor lank ’n ware entrepreneur!

Op soek na winsgewende idees?