binneste
skool
pret
Mientjie is vandag baie opgewonde. Haar een tandjie is baie los en Mamma het vir haar vertel dat as haar tandjie uit is, sy hom in haar skoen kan sit en dan sal die tandemuis dalk vir haar ‘n geldjie bring.

Sy kan nie meer wag dat die tandjie moet uitval nie. Miskien moet sy hom maar so bietjie help. Sy gaan na Mamma se naaldwerkkamer en knip ‘n stukkie garing van die tolletjie af. Sy probeer om die garing om haar tandjie te knoop, maar hy gly elke keer los. Sy vat die garinkie na Mamma toe. “Mamma, sal Mamma asseblief die garing om my tandjie bind sodat ons hom kan uittrek?” “Seker, my kind” sê Mamma.

Mientjie gaan sit op die bed en Mamma bind versigtig die garing om. Mientjie se hartjie klop kadoef-kadoef toe Mamma sê dat sy nou die tandjie kan uitpluk. Mamma gee een vinnige pluk en daar trek die tandjie deur die lug!

Mamma gee vir Mientjie ‘n stukkie watte om vas te byt sodat die klein plekkie waar die tandjie was, gou-gou beter voel.

Mientjie vat die tandjie en gaan sit dit versigtig op die kassie langs haar bed. Sy     
mag hom nie nou laat wegraak nie, want dan sal die muis nie vir haar ‘n geldjie kan bring nie! Sy kan nie meer wag dat dit moet aand word nie. Mamma sê die tandemuis kom haal net snags tandjies.  

Toe Mamma later sê dat dit badtyd is, hardloop sy sommer dadelik, nie soos ander aande wanneer sy sê sy wil eers nog bietjie speel nie. Nadat Mamma vir haar ‘n Bybelstorie gelees het en hulle saam gebid het, neem sy die tandjie en sit hom versigtig neer binne in haar mooiste kerkskoentjie. Sy sit die skoentjie mooi by die deur neer sodat die muis hom darem maklik sal kan kry.

Sy hou die deur fyn dop – sy wil nie slaap as die muis kom nie, sy wil hom graag sien. Later vryf sy haar ogies, want sy word darem nou baie vaak…

Skielik hoor sy ‘n geluidjie. Ja waarlik, daar sit ‘n piepklein muisie by haar skoen!  Hy lyk egter glad nie soos ‘n gewone muis nie. Sy haartjies is so silwer blink en hy het ‘n kleertjies aan wat blou en oranje is!




Mientjie en die tandemuis

deur Wilma Coetzee