binneste
skool
pret
(Verlede keer het Ietsie-Spesiaal verkeerde goed gedoen en lelike goed het by sy kop begin uitpeul. Ietsie-Oulik het vir hom verduidelik dat hy aan GIGU ly – Gemors In Gemors Uit.)

Ietsie-Spesiaal besluit dat hy definitief nie met sulke uitpeulgoed wil loop nie. Hy skaam hom dood as Ietsie-Oulik hom elke dag so moet sien! “Mmm, ek sal dan seker maar op ’n dieet moet gaan, jy weet, van nou af net goeie goed vir my en niks wat sleg is nie… Ek moet sê, ek dink dit gaan moeilik wees om lewenslank daarby te hou.  Dit gaan vervelig wees om nooit ’n rowwe fliek te kyk of lekker woeste musiek te luister nie.”

Ietsie-Oulik troos: “Toemaar, dit is glad nie so erg soos wat dit klink nie.  Wees nou eerlik:  het jy vanoggend net so lig en vrolik soos gisteroggend gevoel?”
“Nee, ek het vanoggend al weer amper gevoel soos toe ek net Niksie was.”
“Jy sien, ou Jokker het jou al weer om die bos gelei!  Hy laat jou dink dat jy net die lewe kan geniet as jy rowwe en verkeerde dinge doen, maar dis nie waar nie.  Daardie goed laat jou vir ’n kort rukkie lekker voel, maar op die lang duur laat dit jou ongelukkig voel.  As jy egter die goeie dinge doen en aan goeie dinge dink, gaan jy klaar beter voel.  Die beste van alles is dat jy nie alleen jouself hoef in te span om dit reg te kry om – soos jy dit noem – op dieet te gaan nie.”

Ietsie-Spesiaal luister aandagtig.  “O ja, en wie gaan my nogal help?”
“Jy hoef maar net jou Maker te vra.  As jy Hom opreg vra, sal Hy jou met graagte help.  Om     
die waarheid te sê, Hy kan nie wag dat jy vra nie!”
“Sjoe, dit is goeie nuus!  Nou weet ek darem hoe om te keer dat hierdie goed nie weer oral uitpeul nie, maar wat gemaak met die goed wat nou al reeds hier is?  Hoe raak ek daarvan ontslae?” vra Ietsie-Spesiaal.
“Nee, dit sal nie veel help nie.  Jy moet vir die Maker sê dat jy jammer is oor die verkeerde dinge wat jy gedoen het en vra dat Hy jou sal vergewe.  Dan sal jou GIGU simptome verdwyn.”
“Sal Hy nie baie kwaad vir my wees omdat ek so ’n gemors aangevang het nie?”
“Nee wat, Hy is baie lief vir jou en verstaan dat jy nog besig is om te leer hoe al hierdie dinge inmekaar steek.”


Ietsie-Spesiaal se dieet
Deur Wilma Coetzee