binneste
skool
pret
“Prrrrrt!”  “Ag, waar is daardie ellendige wekker tog?”  Niksie vat hier en vat daar in die donker, maar kan net nie die wekker raakgevat kry om dit dood te druk nie.  

“Ek gaan net nog so ‘n klein rukkie lê voordat ek opstaan,”  dink Niksie.  ‘n Rukkie later staan Niksie traag uit die bed op, slof-slof badkamer toe en bekyk homself in die spieël in ‘n poging om wakker te word.  Dis nou nie eintlik die mooiste of die vriendelikste gesig wat vir hom kyk nie.  

“Ag, ek wens ek kon soos ou Breker gelyk het – sterk gebou, aantreklike gesig en almal dink hy is omtrent die beste ding wat Ietsie-Bietsieland nog getref het!  Ja, hy weet ook mos alles van alles en hy kan enigiets beter doen as die res van die ouens in Ietsie-Bietsieland.   Maar nou ja, wie en wat ek is, is natuurlik heeltemal ‘n ander saak…”

“O aarde, kyk waar loop die tyd al, ek beter klaar maak as ek nog betyds wil wees!”  Hy hap gou ‘n happie, drink gou ‘n slukkie, skud homself reg, en bêre sy eina-gedagtes diep weg.
In Ietsie-Bietsieland gaan dit goed met almal.  Dit is net Niksie (of so dink hy) wat nie aldag so lekker regkom en inpas nie.  Daarom kan hy nie met sy eina-gedagtes uitgaan en daar buite rondloop nie.  As iemand dit moet agterkom… Nee wat, daar buite maak hy maar asof hy nes die res is en doodgelukkig is. Maar hierdie gedagtes bly knaag aan hom en dit pla hom.  

Hoekom is hy nou eintlik hier in Ietsie-Bietsieland?  Hoe kan hy regtig gelukkig wees?  Hoekom voel hy so leeg?

Niksie het al baie planne gemaak.  Hy weet as hy so ‘n lekker cool sonbril opsit, lyk hy ‘n bietjie beter.  As hy vreeslik hard werk en goed presteer, lyk dit of almal hom darem raaksien.  Dan voel hy nogal geliefd.  Maar dis tog asof die gevoel nie lank genoeg wil hou na sy sin nie.  Dan probeer hy maar weer iets anders.  

Net toe Niksie by die voordeur uitstap, sien hy ‘n pakkie op die trappie lê.  Hy tel dit op, baie verbaas om te sien dat dit mooi toegedraai is en sy adres op het.  Dit moet dus vir hom bedoel wees, maar hy verjaar nie en buitendien stuur niemand eens vir hom briewe nie, wat nog te sê pakkies!

Hy maak dit gou oop en sien dat dit ‘n boek is.  Die boek se naam is vir hom baie interessant: Die Enigste Handleiding.  Hy kyk weer in die pakkie om te sien of daar ‘n gebruiksartikel saam met die handleiding gekom het, want sekerlik moet die handleiding vir jou verduidelik hoe werk een of ander ding.             
Niksie word ’n ietsie
     deur Wilma Coetzee